Die menslike brein is ‘n komplekse struktuur. ‘n Struktuur wat biljoene prosesse, instruksies, berekeninge, aktiwiteite en besluite in ‘n paar sekondes kan verwerk. Een van die wonderlikste dinge van die menslike brein is dat hierdie struktuur jou hele lewe lank kan ontwikkel en nuwe konneksies tussen neurone kan vorm. Talle uitkyke op ons lewe is geprogrammeer in ons brein deur ons ouers en dinge wat met ons gebeur het. Die neuro-strukture in ons brein skryf vir ons voor hoe om te praat, op te tree en te dink. Na aanleiding van dit waaraan jy blootgestel is in jou lewe en wat tydens jou opvoeding aan jou geleer is, word hierdie konneksies al hoe sterker. Indien jy dit nie verander en anders begin dink nie, word hierdie konneksies nog sterker en raak jou manier van dink en doen outomaties en deel van jou onderbewussyn.
Daar is ‘n bekende storie van ‘n vrou wat ‘n 8 meter lange luislang as troeteldier aangehou het. Die slang het snags in haar bed geslaap en voltyds in haar huis gewoon. Na ‘n wyle het die slang opgehou vreet. Die vrou het baie bekommerd geraak en die slang na ‘n veearts geneem. Nadat die veearts verskeie toetse op die slang gedoen het kon hy geen fout vind nie. Die veearts het toe die slang se optrede met die vrou bespreek en vir haar gevra of die slang elke aand by haar slaap. “Ja, elke aand” het sy geantwoord. “Draai die slang sy lyf om jou en beweeg hy styf en snoesig teenaan jou”. “Ja” het die vrou weer geantwoord. “Ek het begin bekommerd raak en begin dink dat die slang baie alleen voel, die slang het baie liefdevol geraak die laaste paar dae. Ek het gedink die slang het dalk ‘n maat nodig.” Die dokter moes toe noodgedwonge aan die vrou verduidelik dat die slang homself begin voorberei het om haar te vreet, die slang het haar op en af begin meet en opgehou vreet sodat hy die regte hoeveelheid spasie in sy lyf kan hê om haar in te sluk.
Ons onderbewussyn of soos in Engels genoem “subconscious mind” funksioneer op ‘n soortgelyke wyse. As jy terugsit en toelaat dat die onderbewuste deel van jou brein voortgaan om jou lewe te beheer vanaf die basis van al die negatiewe programmering wat dit bevat sal dit ook jou lewe kan ruïneer.
Nie alle prosesse wat in die onderbewuste deel van die brein gestoor is, is negatief nie. Ons vermoë om sekere take outomaties sonder om te veel te hoef te dink, soos byvoorbeeld om te bestuur of te eet word ook deur die onderbewuste deel van ons brein beheer. Ongelukkig word talle van ons negatiewe gedagte patrone, maniere van emosionele uitlating en negatiewe uitkyke op die lewe ook in hierdie deel van ons brein gestoor.
Die onderbewuste deel van ons brein werk baie soos ‘n rekenaar. Informasie word in hierdie deel gestoor. Dit sluit in alles wat met ons gebeur het en dit waaraan ons blootgestel is. Elke keer wat ons ‘n taak of aksie verrig, ‘n emosie voel of sekere gedagtes koester, word ‘n boodskap deur middel van die neurale verbindinge in ons brein na die onderbewuste deel van die brein gestuur. Wanneer ons dieselfde aksies of denkwyses herhaal, word sterker konneksies in die onderbewuste deel van ons brein gevorm. Dit is hoe ons geleer het om te loop, te eet en te bestuur. Ons gedagtes en optrede het “outomaties” geword die oomblik toe die neurale konneksie sterker of permanent geword het. Hierdie nuwe gedrag, hetsy maniere van emosionele uitlating of denkwyses word outomaties ons styl van dink en doen. Wanneer jy byvoorbeeld aanhoudend en impulsief reageer op jou woede dan is hierdie tipe reaksie geprogrammeer in die onderbewuste deel van jou brein en het jy nodig om die konneksies te herprogrammeer. Dit bly een van die grootste wonders van die anatomie van ons brein dat hierdie ou konneksies vervang kan word met nuwe konneksies ongeag van ons ouderdom.
Dink aan die eerste keer wat jy geleer het hoe om ‘n motor te bestuur. Jy was bewus van jou elke beweging. Wanneer jy die ratte geruil het of die stuurwiel gedraai het was jy op daardie oomblik totaal bewus van elke klein en groot aksie wat jy moes uitvoer en moes jy konsentreer op elke element van die proses. Soos die tyd verloop het en na jare van bestuur ruil jy outomaties die ratte en draai jy outomaties die stuurwiel. Met ander woorde, jou bestuurstyl het natuurlik geword en jou besluite outomaties omdat hierdie optrede nou deel gevorm het van die onderbewussyn van jou brein en nie uitsluitlik meer gebruik maak van die bewuste deel van jou brein soos toe jy aanvanklik geleer bestuur het nie. Dit laat my ook onwillekeurig dink aan die beroemde gesegde van Gary Player wat gesê het “The more I practice the luckier I get”. Dit is presies hierdie proses van die versterking van die neurale verbindinge in sy brein deur volgehoue repetisie en oefening wat gemaak het dat die suksesvolle uitvoer van die aksie, die golfhou, al hoe meer outomaties geword het.
Watter negatiewe gedagtes en wyses van optree kom outomaties vir jou? Watter dinge doen jy waaroor jy later spyt is? Hierdie is die dinge wat jy in ag moet neem, weer terug moet bring na die bewuste deel van jou brein, en doelbewus stop en dink voor jy optree of reageer. Mens moet dit doelbewus doen sodat jy nuwe neurale verbindinge in jou brein kan skep en aanhou doen sodat die nuwe verbindinge permanent kan word totdat jy sodoende jou negatiewe gedrag kan herprogrammeer.
Jy moet begin om weer vanaf die bewuste deel van jou brein te funksioneer. Jy moet weet wat jou doel in die lewe is maar ook wat jou doel in die oomblik van nou is. Wanneer jy met bewustheid lewe is jy nie bekommerd oor die verlede of die toekoms nie, jy fokus op die oomblik van nou.
In hierdie lewe is dit belangrik om te besef dat jy dit is wat met jou gebeur het nie. God se genade gee aan ons die belofte dat ons altyd van vooraf kan begin en dat dit nooit te laat is nie.

