In die boek “YOUR M.I.N.D Profile, What Shakes You – Can Shape You” leer ons van 4 verskillende profiele waarin jy moontlik kan val. Die doel van hierdie profiele is nie om jou in ‘n boks te plaas nie, maar skep eerder ‘n geleentheid vir jou om die boks te identifiseer waarin die wêreld en die dinge wat met jou gebeur het jou dalk probeer plaas. Die eerste van die 4 profiele is die “Mature” profiel (Die ideale profiel. Dit is ‘n profiel wat jy kan bekom deur emosionele intelligensie ontwikkeling en die keuse om te leer uit jou pyn eerder as om ‘n slagoffer daarvan te bly). Die volgende profiel is die “Insecure” of “Pleaser” profiel waaroor ons meer sal praat in hierdie artikel. Dan is daar die “Narrow” profiel wat onder andere poog om emosies, intimiteit en gehegte verhouding te probeer vermy. Die laaste van die profiele is die “Disrupted” profiel. Daar is baie minder mense wat in hierdie kategorie val. Hierdie profiel word opgemaak deur individue wat dikwels verskeie vorme van trauma vanaf ‘n jong ouderdom moes meemaak.
Kom ons kyk na die “Pleaser” profiel. Dit is soms ‘n kragtige gebaar om “JA” te sê vir iets, maar dikwels lê daar soveel meer wysheid daarin om te kan sê “NEE”. Iemand met ‘n “Pleaser” uitkyk op die lewe sê dikwels ja vir dinge waarvoor hulle nie eintlik moet nie en kom hulself gevolglik te na in die proses. Die onderliggende rede hiervoor is dikwels die feit dat hierdie individue ander wil gelukkig hou, wil verseker dat ander van hulle hou en verwerping probeer vermy. Om almal tevrede te wil hou, kan talle risiko’s inhou, nie net omdat dit baie druk of verantwoordelikheid op jou plaas nie, maar ook omdat dit jou gesondheid negatief kan beïnvloed.
Probeer die volgende indien jy wil ophou om almal altyd te wil “Please”:
- Prioritiseer
As jy bewus is van jou prioriteite en waarder kan jy kies om eerder jou fokus daarop te plaas eerder as om ander onophoudelik tevrede te wil stel;
- Jy het ‘n Keuse
‘n “Pleaser” mentaliteit laat ons soms voel asof ons verplig is om “JA” te sê vir alles en almal. Staan vir ‘n oomblik stil en dink aan die feit dat jy eintlik ‘n keuse het.
- Moenie dadelik besluit nie
Jy het die volste reg om aan ander te vra om jou ‘n oomblik te gee om oor iets te dink voor jy antwoord. Gebruik hierdie geleentheid om na te dink oor die keuse wat jy wil maak en om ‘n manier te vind wat vir jou gemakliker gaan wees om jou besluit aan die ander persoon te kommunikeer.
- Maak seker jy word nie misbruik nie
Begin om jou waardes raak te sien. Niemand het die reg om jou te misbruik nie. Voor jy “ja” sê vir iets, dink ook aan die dinge waarvoor jy dan gaan moet “nee” sê. Maak seker die persoon wil jou nie net misbruik nie. Mense wat ander misbruik kan dikwels geïdentifiseer word deur die komplimente wat hulle vryelik uitdeel. Bv. “Sal jy asseblief die eetgoed maak, niemand kan dit so goed doen of so lekker maak soos jy nie?”. Voor jy dit besef, maak hierdie persone besluite vir jou.
Onthou, dit mag dalk aanvanklik moeilik wees om ‘n nuwe self-geldende benadering in te neem teenoor ander. Dit sal egter makliker raak. Dink veral aan die dinge waarby jy eerder gaan uitkom indien jy “nee” sê en die mense met wie jy dan eerder jou tyd kan spandeer. Indien jy eerder met ‘n klein sprong wil begin voor jy jouself druk om te begin nee sê, is dit ook ‘n goeie idee om dan jou beskikbare tyd te identifiseer. Maak dit duidelik hoe laat jy sal kan help en tot hoe laat. Om ander aanhoudend te probeer tevrede stel dra nie by tot jou waarde nie. Jy is reeds waardevol en die mense wat werklik in jou lewe moet wees sal dit raaksien of jy nou vir hulle alles doen of nie. Jy kan nie alles vir almal wees nie. Jy kan egter meer gereeld vir jouself opdaag en die beste weergawe van jouself wees. Die mense vir wie jy omgee en wat ook vir jou omgee het niks meer as dit nodig nie.

