Die Bybel gee vir ons een van die akkuraatste definisies van wat karakter is. Dit is ‘n manier van leef, die vrug wat jy dra in jou lewe en die pad wat jy kies om te loop. In talle meningstukke en motiveringsboeke sal beskrywings vir karakter onder andere ook insluit eerbaarheid, integriteit en regverdigheid. Karakter is ‘n morele begrip deur middel waarvan die wyse waarop jy lewe gemeet kan word aan jou persoonlike waardesisteem. Die karakter van sommige individue word prakties geïllustreer in die Bybel en kan ons dit ook sien as ‘n uitnodiging om aan die hand van hierdie individue se goeie en slegte punte en ook die voorbeeld wat sommige van hulle stel, iets te leer. Ek het baie bemoediging en wyshede geleer uit onder andere die lewe van Paulus en Debora. Daar is talle stories in die Bybel wat vir ons ‘n invalshoek bied na aanleiding waarvan ons as individue kan bydra tot die bou van ons eie karakter. Deur hierdie reis kan ons dan ook nie anders as om in verwondering ook God se karakter te ontdek nie.
Jou karakter speel ‘n groot rol in jou leierskap vermoë. Elke Christin moet hom/haarself toerus met voldoende leierskap kwaliteite sodat ons in elke situasie in die lewe toegerus sal wees met ‘n karakter na God se hart wat ons in staat sal stel om aan ander die wonder van God se liefde ten toon te kan stel.
In die Bybel lees ons hoe Kanaän vir Israel verwoes het. Die mense het in vrees geleef en al wat hul kon red en van oorgawe na hoop lei, was een gehoorsame vrou met die naam Debora.
Sisera was die aanvoerder van die Kananitiese leer en het 900 yster strydwaens gehad waarmee hy die Israeliete kon aanvat en intimideer. Hierdie gebeurtenis het afgespeel aan die begin van die Yster tydperk in die Midde-Ooste. Dit beteken dat die Kanaäniete heelwat tegnologies gevorderd was vir die tyd waarin hulle hulself bevind het. Israel se mense het hul wapens uit brons gemaak, maar die Kanaäniete kon gevolglik hul wapens uit yster maak wat baie beter gewerk het. As gevolg van verskeie tekortkomings, was Israel op daardie stadium geen kompetisie vir Sisera nie. Die Israeliete het in vrees en verdrukking gelewe. Hulle het in isolasie begin lewe ten einde hul veiligheid te verseker en wanneer hulle wel iewers heen moes reis het hulle van ompaaie gebruik gemaak. Verder het die lewe buite die stede van Israel ook uitdagend vir almal geword. Die mense daar het gekwyn en agteruitgegaan. Die boere kon nie meer hul landerye bewerk soos in die verlede nie. Hulle het ook in verskeie ontoeganklike plekke gaan bly omdat hul lewens in gevaar was.
God het in verskeie visioene en drome met Debora gepraat. Die mense het dit gesien en sy het gevolglik die leier van die volk geword. Sy het opgetree as Regter en het gesorg dat die geskille tussen individue in die volk bygelê word. Die Debora palm in die Efraimsberge tussen Ramah en Bet-el is na haar vernoem. Sy het dae om daar gesit ten einde haar besondere regspraak aan haar mense te lewer. Sy het ook opgetree as profeet en het God se wil vir haar volk uitgelê. Na 20 jaar van onderdrukking, vrees en wanhoop het Debora opgestaan as “Moeder van Israel”. Na 20 jaar het Debora gesorg dat God se oorwinning en belofte vir haar mense waar word. Tegnies was Debora die eerste werkende ma. Sy was die vrou van Lappidot, ‘n man aan haar gegee deur God wat ook uiteindelik soveel waarde toegevoeg het tot Debora se kennis en ontwikkeling. Nie net het hy haar ondersteun nie maar het hy haar ook aangemoedig om te leer.
Debora het ‘n voorbeeld vir die mense om haar gestel na aanleiding van haar vertroue op God. Dit het haar mense ook met geloof gevul. God het aan Debora die visie gegee dat alles anders kan wees en sy het ten spyte van al die teëspoed op haar pad hierdie visie voor oë gehou. Debora se uitkyk op die lewe ten spyte van verdrukking en haar ongekende geloof en gehoorsaamheid aan God het lewe ingeblaas in haar volk wat onderdruk was in iets wat soos ‘n hopelose siklus wou voorkom. Debora het strategies gedink en die Kisonspruit gekies as die plek waar hul geveg teen hul vyand sou plaasvind. Onder leiding van die Here het Debora sonder om ‘n swaard op te tel haar volk gelei tot oorwinning. Na die geveg het Debora en Barak ‘n lied saamgestel waarin hulle dit duidelik stel dat hul oorwinning van God af gekom het.
Hierdie vorm van leierskap is broodnodig in ons samelewing. God het nodig dat ons as individue die opdragte wat Hy op ons hart lê moet uitvoer.

